februari 2005

Ingezonden door Floris Brown  S.A.

i.m. Marleen Konings

           

060

 

 Mostert sal 25 jaar sit oor moorde LLEWELLYN PRINCE 12/02/2005 04:45 - (SA)

KAAPSTAD. -
Ferdinandt Mostert (47) sal minstens 25 jaar tronkstraf moet uitdien vir die moorde op die Nederlandse uitruilstudent me. Marleen Konings én 'n voormalige tronkmaat van hom.
Mostert is gister deur regter Dennis van Reenen in die hooggeregshof hier tot lewenslank en 'n bykomende 81 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is Donderdag op 22 van 23 aanklagte teen hom skuldig bevind.

"Jy is 'n mens teen wie die samelewing beskerm moet word. Die enigste manier is om jou vir baie lank daaruit te verwyder," het Van Reenen aan 'n emosionele Mostert, wat oorspronklik van Polokwane is, gesê. Van Reenen het gesê die moord op Konings was vooraf beplan en dat Mostert in haar én Michael John Victor se geval leuens aan hul naasbestaandes vertel het om hul moorde weg te steek. Hy het ontken hy het Konings in Desember 2003 in die Tradouwpas, en vir Victor in April 1997 naby die Hartbeesboortdam vermoor.

"Jy het 'n oormatige lys van vorige veroordelings en is opgeskorte vonnisse van 32 jaar vir sommige daarvan opgelê," het Van Reenen gesê. Mostert is lewenslank vir die moord op Konings en 15 jaar vir die roof van haar besittings opgelê. Hy is verder 20 jaar tronkstraf vir die moord op Victor opgelê. Die res van sy vonnis is opgelê vir verskeie aanklagte wat bedrog, diefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie insluit. Die vonnis sal gesamentlik uitgedien word, "wat beteken dat jy mintens 25 jaar sal uitdien en 'n ou man sal wees indien jy vrygelaat word." Van Reenen het kapt. Piet Viljoen, die ondersoekbeampte, en adv. Jan Theron, vir die staat, bedank vir hul deeglike hantering van die saak. Mostert het voor sy vonnis emosioneel aan die hof gesê Konings se gesin het hom skuldig bevind reeds vóór die regter kon. "Ek voel nietemin jammer oor hul verlies. Hulle het iets kosbaars verloor. Ek kan hulle nie blameer vir hul gevoelens teenoor my nie." Volgens hom was Victor "geen engeltjie nie. Ek het my bes probeer om hom te help en vandag is ek skuldig aan sy moord". Mostert het gesê hy het nog sy waardigheid en respek en sal in die tronk voortgaan om mense rekenaaropleiding te gee. "Ek het al 100 gevangenes suksesvol opgelei en nie een het weer na die tronk teruggekeer nie," het hy gesê.

Marleen se pa pleit man moet nooit vrygelaat word
Edna Isaacs en Llewellyn Prince 11/02/2005 00:04 - (SA)

 

KAAPSTAD. - "Verwyder hom asseblief uit die samelewing en laat hy vir die res van sy lewe in die tronk sit."
Dít was gister die pleidooi van mnr. Edwin Konings, pa van die vermoorde Nederlandse student me. Marleen Konings, in die hooggeregshof hier nadat die man wat weens haar dood aangekla is, daaraan skuldig bevind is.
Regter Dennis van Reenen het Ferdinandt Mostert (47) ook daaraan skuldig bevind dat hy me. Konings se besittings tydens die moord in Desember 2003 geroof het.
Mnr. Konings, wat saam met sy vrou en ander dogter ter verswaring van vonnis getuig het, het gesê: "Net die gedagte dat hy (Mostert) dalk dieselfde misdade in die toekoms kan pleeg, is ondraaglik. U (Van Reenen) sal oor die gepaste vonnis besluit en sodoende geregtigheid in die Suid-Afrikaanse regstelsel laat seëvier."
Sy vrou en me. Konings se ma, mev. Jose Konings, het in trane gesê: "As jou kind doodgaan, gaan iets in jouself ook dood. 'n Deel van jou identiteit word uitmekaar geskeur en dit veroorsaak 'n leemte.
"Geen verlies in die wêreld is wreder as om gedwing te word om sonder jou kind te lewe nie. Ons kon haar nie eens op 'n beskaafde manier groet nie. Om háár te groet, was nie vir ons bedoel nie. Ons mis haar. Daar is nog soveel vrae."
Me. Konings se jonger suster, Lotte, het gesê: "Sy (Marleen) het altyd twee keer gedink voor sy iets doen. Haar enigste fout was dat sy 'n man vertrou het wat kwade bedoelings met haar gehad het.
"Ek blameer haar nie, want Mostert het baie mense mislei wat hom vertrou het. Ek sou hom ook vir 'n goeie mens aangesien het."       Mostert het besluit om niks aan die gesin te sê nie.

 

 

   

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Contact

A.D.S.home

Gastenboek

  Inschrijven

 TV en Radio

 

INDEX

 Interview 060